top of page

My Liewe Afrikaner

  • Writer: Ruan Coetzee
    Ruan Coetzee
  • Jan 16, 2024
  • 4 min read

Updated: Jan 16, 2024

Ek is 'n trotse Afrikaner. Wat presies ek daarmee bedoel en waarop presies ek trots is, is juis die punt hiervan. Ek hoor in verlede week 'n pynlike stelling oor die Afrikaner: "Die Afrikaner hou sy genade alleenlik vir dié wat soos hy klink en soos hy lyk". Dit slaan my tussen die oë, en dit maak seer - want dit is waar.


Op Facebook sien ek die NG Kerk het bekend gemaak dat hy Oscar Pistorius met "ope arms" sal verwelkom. Dis wonderlik, natuurlik, maar dit krap my op dieselfde tyd ook bietjie om. Ek verloor dadelik my stryd om die "comments" te weerstaan, en ek is summier spyt. "Wie is ons om te oordeel?" skryf een tannie. "Die kerk is vir almal!" skryf 'n ander. "God vergewe, hy gaan soek altyd [die] verlore skaap en bring hom terug." skryf iemand. Die kontras tussen hierdie kommentaar en die kommentaar op 'n vroeër plasing van dieselfde koerant is opvallend. Die vorige plasing gaan oor die NG Kerk se oorwegings oor die tameletjie van "die Gays". Ek het nie lus om al die kommentaar hier te herhaal nie, maar dink jou maar in (die gewone "hulle gaan brand in die hel"-tipe goed). Ek keer myself voor ek op die kommentaar antwoord, en belangriker, voor ek 'n blog inskrywing daaroor maak.


Skaars 'n week gaan verby voor ek wéér met hierdie onderwerp gekonfronteer word - dié keer oor Israel. Ek sien 'n opskrif wat oor Suid-Afrika se aansoek by die Internasionale Hof van Geregtigheid praat, en ek gaan lees die artikel. Gegewe my regsagtergrond en veral my belangstelling in internasionale reg, het ek Suid-Afrika se aansoek gevolg en gekyk. Die artikel handel toe oor die inhoud van Suid-Afrika se aansoek, 'n kort opsomming van die beweringe, en die ingryping wat van die hof versoek word. Die skrywer van die artikel spreek hom regtens nie uit oor die meriete of beweegrede van die aansoek nie, en som net die aansoek op. Wéér verloor ek my stryd om weg te bly van die "comments". Mapstieks, is ek ontnugter - die Afrikaners is kwaad.


Die kommentaar skok my. Uit ouder Afrikaner gewoonte, word die Bybel weer vrylik aangehaal. "Seën Israel en ontvang seën. Vervloek Israel en wees vervloek" skryf Johan. "Ou Mandela het al in 1994 vir almal was masjien belowe. Julle het niks gekry nie net water en krag is ook nou weg" skryf Ansie. "Israel weet hoe om terroriste te hanteer. So [die] ANC en sy kaders en comrades moet eerder laag lê" skryf Roelof. Ek slaan my rekenaar toe. Die sweet tap my af en ek is moeg. Ek sak my kop, eers uit moegheid en toe in skaamte. Ek wil glo die kommentaar verteenwoordig slegs die uitkyk van die mees radikale onder ons Afrikaners, maar dis oral net variante van dieselfde gal.


Hierdie twee gebeurtenisse en veral die kommentaar daarop, begin toe 'n debat in my kop oor die Afrikaner. Ek dink veral aan ons geskiedenis: Ons was al onderdruk, en ons was al onderdrukkers. Ons het al 'n paar keer alles verloor, maar elke keer getrou oor begin. Ons het al - onder die moeilikste omstandighede - 'n manier gekry om te floreer. Ons is donners sterk! Maar ek sukkel om my historiese kennis van die Afrikaner met die Afrikaner wat ek nou sien, te vereenselwig. Iewers het iets verkeerd gegaan, maar ek kom nie by 'n antwoord uit nie.


Die probleemoplosser in my stoei vir nog 'n paar dae hiermee, en ek probeer dit andersom benader deur te dink aan die eienskappe van die Afrikaner waarin ek die meeste trots vind, en dit dan te vergelyk met wat ek nou sien: Ons was aanpasbaar, maar ons is nou domastrant ('n eienskap wat al van die grootste volke tot hulle knieë gebring het in die verlede). Ons was ingelig, maar ons lees nou nét opskrifte en maak ons eie afleidings (dikwels alleenlik uit bronne wat nét ons sienswyse deel). Ons het geweet wanneer om te baklei en wanneer om te vergewe, maar ons wil nou nét baklei en nét vergewe as die NG Kerk sê ons mag. Ons was warm, verwelkomende mense, maar ons is nou bitter en kwaad. "Wat het met ons gebeur? " wonder ek.


Ek oorweeg die magdom probleme wat die Afrikaner in hierdie land raak (want die Here weet, ons het 'n magdom!). Is dit hoekom die Afrikaner so verander het? Dit lyk so, maar hoekom? Ons het tog al voorheen 'n manier gekry om te oorleef onder 'n regering wat ons onderdruk? Ons het tog al voorheen groot armoede gesien? Ons het tog al voorheen, in die een of ander vorm, soortgelyke uitdagings oorkom. Waarom weier ons hierdie keer om bo ons omstandighede uit te styg? Ek kry nie 'n antwoord nie, net teorieë wat meestal verband hou met 'n gebrek aan sterk, moderne Afrikaner rolmodelle, 'n slegte gewoonte om die Bybel sonder die lense van God se genade aan te haal, en 'n geloofskompas (die NG Kerk) wat al hoe minder noord wys (regtig waar, selfs die Pous en die Katolieke Kerk het nou al die "gays" verwelkom).


Hoe los ons hierdie probleem op? Ek weet nie. Daardie tipe antwoorde lê waarskynlik diep in sielkunde boeke. Maar, soos met enige ander probleem, glo ek die begin lê in bewustheid (en daarom hierdie inskrywing). My hart is seer oor wat ek sien, en ek hoop dat die Afrikaner - soos hy nog altyd kon, weer sal opstaan, aanpas, en floreer.



Recent Posts

See All

Comments


Want to share your thoughts or collaborate with me? Drop me a line – I'd love to hear from you!

Thanks for Reaching Out!

© 2024 Brain Brew. All rights reserved.

bottom of page