Red Door, Quality Street & 'Bloody Fools'
- Ruan Coetzee
- Dec 9, 2023
- 3 min read
Die lewe het 'n manier om ons op snaakse maniere op 'n nostalgiese paadjie af te lei - veral in Desember. Of dit nou is omdat Desember gewoonlik familietyd is, of omdat ons alewige gejaagde lewens net so bietjie bedaar, sal ek nie kan sê nie. Die punt is, hiérdie tyd van die jaar onthou ek graag die mense en dinge wat my gevorm het.
Ek staan iewers die afgelope week in die ry by die apteek. Ek sien 'n moewiese advertensie vir Quality Street - dis op special. Voor ek myself kry, onthou ek Kersfees saam my Ouma. Elke Kersfees moes daar Quality Street gekoop word - let wel, Quality Street - nie enige namaaksel daarvan nie. Ek onthou hoe vies sy kon raak as dit nie die genuine maak was nie. Kom jy nou met 'n rooi Beacon pak daar aan, was jy summier 'n 'bloody fool' gedoop. Ek onthou hoe ek altyd gejaag het om eerste by die bak te kom - ek soek die oranje en pienkes! Niemand wou die groenes hê nie, en hulle het altyd alleen in die bak agtergebly. Vir 'n oomblik wonder ek wat van hulle geword het, en selfs, hoekom hulle ooit in die pak was (sover ek weet wou niemand hulle hê nie!).
Ek laat my gedagtes bietjie hardloop en ek dink aan my Ouma. Sy is in 2012 skielik (in 'n kwessie van 'n enkele dag) oorlede aan hartversaking. Sy sou dit 'n seën noem, reken ek. Sy het altyd gesê sy hoop sy gaan in haar slaap dood - sy wou nie ly nie. Op haar manier was sy die matriarg van ons familie. My ma is haar enigste kind, en my Oupa (haar man) is oorlede toe my ma omtrent 10 jaar oud was. My Ouma het 'n groot rol in ons lewens gespeel. Sy was, sover ek onthou, elke Kersfees saam met ons. Ek dink dis dié dat ek Kersfees nog steeds so direk met my Ouma verbind.
Wanneer dit by geskenke kom, kon jy haar met haar gunsteling parfuum - Elizabeth Arden se "Red Door", bederf. Sy het, sover ek kan onthou, nooit iets anders gebruik nie. Selfs nou nog, wanneer ek party dae besonders baie verlang, sal ek vinnig die sample in die winkel ruik en net vir 'n paar sekondes voel of sy naby is.
Ek dink nog aan haar wanneer ek brandstof ingooi. Ek skat ek was omtrent 10 jaar oud toe ek eendag saam met haar winkels toe ry. Op pad, moes ons stop vir brandstof. "R4.80 per liter!" sê sy luidkeels. "Waar gaan dit ophou? Bloody Fools!" As sy die petrolprys nou moes sien, is ek oortuig sy sou by die 'n Engen dood neerslaan (soos die res van ons ook maar byna doen).
Ek wonder wat sy van alles sou sê. In een van ons laaste, dieper gesprekke, het sy my gevra om asseblief 'n sukses van my lewe te maak. "Wys hulle! Wys hulle jy kan gay en suksesvol wees." het sy gesê. Sy het my nooit gesien universiteit toe gaan of 'n prokureur word nie. Ek glo sy sou trots wees.
Ons word gevorm deur die mense om ons. Daarom is dit so 'n ernstige besigheid om te kies met wie jy jou omring. In my lewe is my Ouma een van baie mense wat my gevorm het, en ek is dankbaar vir die tye wat ek saam met haar kon hê. Sy was 'n smart ou lady.



Comments