top of page

Rus Sag, My Liewe Tante

  • Writer: Ruan Coetzee
    Ruan Coetzee
  • Dec 17, 2023
  • 4 min read

In liefdevolle herinnering aan Réne Botha (31 Mei 1938 - 16 Desember 2023)


Ek sit vanaand hier en skryf terwyl ek stadig aan my G&T drink. Dis nie toevallig nie - ek drink nie gewoonlik wanneer ek skryf nie, maar dit voel vanaand reg. My tannie Réne, wie my onder andere so baie dinge in die lewe geleer het, het my geleer G&T drink. Sy het elke aand (die laaste dekade of twee) één gedrink. Dis nie heeltemal die punt van hierdie plasing nie, maar dit laat my glimlag.


Jy sien, ek is mal oor sterk vroue. Nie op die manier wat die meer konserwatiewes om my altyd sou wou hê ek moes wees nie, maar tog. Ek reken mens is gelukkig as jy, in jou leeftyd, een of twee sterk vroue ken (bloot omdat ons hulle nie altyd kan raaksien nie - nie omdat daar so min van hulle is nie!), maar ek is geseënd om heelwat sulke vroue te ken. Gister, 16 Desember 2023, is een van hulle (die een wat die naaste aan my hart was) na 'n kort siekbed oorlede.


Nou dit gebeur soms, wanneer oumense doodgaan, dat die hartseer amper onderdruk word met die woorde hy of sy het "'n vol lewe gehad". Dit maak my nog altyd effens deurmekaar, en partykeer vies. Wat presies is 'n vol lewe? Verwys dit na die hoeveelheid tyd op aarde? Hoeveelheid avonture? Aantal mense vir wie jy lief was en wie vir jou lief was? Ek aanvaar dit verwys gewoonlik na tyd, maar beteken dit mens moet nou minder hartseer wees? Want 85 jaar is 'n "vol lewe", en ek is nie minder hartseer nie. My liewe tante Réne het elkeen van hierdie kategorieë van 'n vol lewe met lof geslaag. Sy het 85 jaar geleef, soveel avonture - wonderlik én pynvol - gehad, 'n skare mense gehad wat vir haar so lief was, en self soveel liefde uitgedeel dat dit alleen haar kon kwalifiseer vir 'n vol lewe al sou sy op 50 sterf. Die beskrywing van 'n vol lewe was herdefinieer deur hierdie vrou.


Tante Réne was die suster van my oorlede oupa James. Ek het in 'n vorige plasing genoem dat hy oorlede is toe my ma 10 jaar oud was. Omdat ek nooit my oupa geken het nie, was tannie Réne die naaste persoon aan hom wat ons gehad het. Ek weet net wat ek al in stories van hom gehoor het, maar almal was dit eens dat hy ontsettend lief was vir haar. En hoe kon mens nie wees nie? Ek het haar omtrent een of twee keer 'n jaar gesien (hoe spyt is ek nou dat ek nie meer gereeld die moeite gedoen het om haar in die Kaap te gaan sien nie), en dan gewoonlik vir twee of drie weke wanneer sy saam met ons gesin op Buffelsbaai gaan vakansie hou het. Die vakansies op Buffelsbaai saam met haar was ongetwyfeld die beste tye van my lewe. Ek het dit ongelooflik geniet om net in haar geselskap te wees en na haar te luister. Luister na al die stories uit haar lewe (ek het altyd gesê sy moet 'n boek daaroor skryf!), die stories oor die familie, beide uit die verlede en sommer lekker nuwe skinderstories, en luister na hoe lief sy vir haar kinders en kleinkinders was (ek gee nie om of ek mag nie, ek beskou myself as haar "honorary" kleinkind - ek weet sy sou nie stry nie).


So vier of vyf jaar gelede was ons op Buffelsbaai vir die jaarlikse vakansie. Tannie Réne was weer daar. Elke jaar, wanneer die wind besonders kwaai op die hoofstrand waai, het ons gaan swem by die "Scholtz-gat". Die Scholtz'e (my ma en tannie Réne se nooiensvan) hou al vir generasies vakansie op Buffelsbaai, en het 'n diep poel ontdek op die tweede strand. Dis 'n helse loop tot daar, maar wanneer jy dit kry is dit heerlik afgesonder van die wind en die lawaai van die ander mense. Sien die Scholtz-gat hieronder.


ree

Maar elkgeval, op hierdie spesifieke jaar het tannie Réne nie kans gesien vir die moeilike paadjie tot by die poel nie. In wat ek vir die res van my lewe as die perfekte opsomming van haar gees sal onthou, gee sy toe opdrag dat my verloofde Jacques haar op die "bodyboard" oor die sand en klippe sleep, sodat sy saam met ons in die Scholtz-gat kon swem. 'n Foto van die geslepery het sy natuurlik geweier, maar ek sal dit nooit vergeet nie.


Hoeveel mense ken jy saam wie jy nét goeie memories het? Saam wie jy niks anders as liefde en vreugde gedeel het nie? Ja, daar was tye wat sy baie pyn gehad het. Daar was groot-skrik-gesondheidsprobleme vir my en haar, wedersydse irritasie wanneer Djokovic 'n Grand Slam wen en frustrasie wanneer ons nie 'n blokraaisel kon klaarkry nie. Maar, daar was nooit enigiets anders as liefde tussen ons nie.


Die prys van groot liefde vir iemand, is die groot hartseer wanneer hulle weg is. En ek is seker ons almal na aan haar voel nou groot hartseer, maar dis 'n prys wat ons oor en oor sal betaal vir die groot liefde wat ons met haar geken het.


Rus sag, my tante. Ek is dankbaar vir elke oomblik wat ons saam gehad het.


Ns. ek drink 'n G&T op tannie.







Comments


Want to share your thoughts or collaborate with me? Drop me a line – I'd love to hear from you!

Thanks for Reaching Out!

© 2024 Brain Brew. All rights reserved.

bottom of page